
← Alle resepte
Nek en skenkels
Nekrol met spinasievulsel
Genoeg vir 4–6
Heerlik saam met gestoofde droëvrugte (resep op bl. 66)
Met dank aan Anita van der Merwe.
Bestanddele
- 1 ontbeende wildsnek, 1–2 dae vooraf laat lê in wynmarinade (resep op bl. 209)
- 5 ml gelatienpoeier
- tou om nek in rol vas te bind
- 200 g streepspekvleis
- 20 ml olyfolie
- 170 ml wildsaftreksel (resep op bl. 20)
- 30 ml fyn appelkoskonfyt
Vulsel
- 350 g spinasie
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 20 ml botter
- 1 ui, gekap
- 125 g spekvleis, in blokkies gesny
- 100 g sampioene, in skyfies gesny
- 65 g ansjovisfilette, in melk geweek (opsioneel)
- 70 g ricottakaas
- 1 eier, geklits
- ’n knippie neutmuskaat
- sout en peper na smaak
- Vulsel: Blansjeer die spinasie vir 2 minute in vinnig kokende soutwater. Druk goed droog en kap grofweg.
- Smeer ’n swaarboompan met gekneusde knoffel. Verhit die botter, soteer die ui tot deurskynend en skep uit. Braai die spekblokkies in dieselfde pan tot bros en skep uit. Verhoog die hitte en braai die sampioene tot die vloeistof ingedamp het.
- Voeg die spinasie, knoffel, spek en ui by die sampioene en roerbraai vir 5 minute. Dreineer die ansjovisfilette (indien gebruik) en kap grofweg. Meng dit met die ricotta, eier en neutmuskaat. Voeg die spinasiemengsel by die ricottamengsel. Geur met sout en peper.
- Nekrol: Voorverhit die oond tot 160 °C. Besprinkel die binnekant van die ontbeende nek met gelatienpoeier, sodat die gereg sy vorm sal behou. Vul die nek met die spinasiemengsel en bind dit met tou in ’n rol vas. Draai die vleisrol met spekrepe toe en steek vas met peuselstokkies.
- Verhit die olyfolie in ’n swaarboomkastrol en verbruin die rol. Voeg die verhitte aftreksel by, plaas die deksel op en potbraai in die voorverhitte oond vir sowat 2 uur tot die vleis sag is.
- Verwyder die spek van die rol en braai dit bros. Voeg die konfyt by die pansappe en glaseer die vleis. Laat rus vir 20 minute in die louoond.
- Berei ’n sous van die panvet en ’n bietjie marinade, en verdik dit met beurre manié (resep op bl. 20). Sny die vleis in skywe en strooi die bros spek oor.